
Daar is ’n gaping tussen die kennis en vaardighede wat leerders op skool aanleer, en die kennis en vaardighede wat in die werkplek en samelewing in die 21ste eeu nodig is. Metakognitiewe bewustheid en selfgerigtheid in leer is begrippe waarna daar in dié konteks in die 21ste eeu verwys word. Die doel van die huidige studie was tweeledig: eerstens, om die vlakke van metakognitiewe bewustheid en selfgerigtheid in die eie wiskundeleer van voornemende wiskundeonderwysers vir kinders in die intermediêre en senior fase in hul tweede en derde jaar in ’n BEd-program (N = 77) te ondersoek; en tweedens, om die korrelasie tussen subskale van metakognitiewe bewustheid en dimensies van selfgerigtheid in leer, asook leerprestasie in ’n wiskundemodule, onderling en wedersyds, te ondersoek. Die data is ingesamel deur die toepassing van twee vraelyste, naamlik die Metakognitiewe Bewustheidsvraelys (Metacognitive Awareness Inventory [MAI]) wat deur Schraw en Dennisson (1994) ontwikkel is en die Selfassesseringskaal vir Selfgerigte Leer (Self-rating Scale of Self-directed Learning [SRSSDL]) wat deur Williamson (2007) ontwikkel is. Beide vraelyste is aangepas vir voornemende wiskundeonderwysers se wiskundeleer en was beskikbaar in Engels, sowel as Afrikaans. Hierdie vraelyste het as riglyn gedien vir die ondersoek na die konsepte ‘metakognitiewe bewustheid’ en ‘selfgerigte leer’. ’n Derde veranderlike in hierdie studie was een leerprestasie (wiskundemodulepunt wat respondente in die vorige semester behaal het). Vir die ontleding van die data is respondente se tellings, Cronbach α-koëffisiënte, en Pearson- (r) korrelasies bereken. Resultate en interpretasie van die statistiese analises het bevestig dat daar verbande tussen die subskale of dimensies van die twee vraelyste onderling en wedersyds bestaan. Geen betekenisvolle korrelasies wat tussen leerprestasie enersyds, en die subskale van metakognitiewe vaardighede en dimensies van selfgerigte leer andersyds bestaan, is egter nie in hierdie studie bevestig nie.